Deel 1: DIE REALITEIT VAN DIE GEESTESWERELD
Deur Andre Strydom
"God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid." - Johannes 4:24.
SO seker as wat daar ’n fisiese wêreld is, is daar ook ’n geesteswêreld. God is immers die Gees en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid - so leer 2 Korintiërs 3:17 ons.
Dit is egter opvallend hoe dat mense baie min van die geesteswêreld weet of self daarvan bewus is. Ons lewe werklikwaar in die laaste van die laaste dae en hierdie wêreld nader die einde van die mensdom met 'n duisligwekkende spoed.
Ook dit is nie 'n nuwe verskynsel nie! In die gesprek tussen Jesus Christus en Nikodémus spreek Jesus juis hierdie verskynsel aan. Nikodémus was 'n vername man, 'n owerste van die Jode en 'n Fariseër. Hy was goed in die skrifte onderleg en het in die voorste gestoeltes van die sinagoges gesit. 'n "Geestelike" leier en tog sê Jesus vir hom: "Jy is 'n leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?"
Ons weet dat Jesus Christus, die ware Messias, die koninkryk van God aan ons bekend kom stel het en sy dissipels deurgaans geleer en onderrig het aangaande die koninkryk van God.
Die Skrif, en Jesus, leer ons juis dat die koninkryk van God nie van hierdie wêreld is nie, dat dit 'n geestelike koninkryk is. Jesus sê dit onomwonde vir Pilatus tydens sy verhoor in Johannes 18:36. Ons weet ook dat Paulus skryf in Romeine 14:17 dat die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blyskap in die Heilige Gees. Die koninkryk van God is daarom nie tasbare dinge nie maar 'n geestelike saak.
Terug na Nikodémus - In Johannes 3:12 gaan Jesus voort om hom te troef daaroor deur aan hom te vra; "As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?"
Paulus stel dit duidelik in Filippense 3:20 dat ons burgerskap in die hemele is, van waar ons ook ons Verlosser, die Here Jesus Christus, verwag.
Volgens Johannes 3:5 is ons as kinders van God uit water (fisies) en uit Gees (geestelik) gebore waarsonder ons nie in die koninkryk van God kan ingaan nie. Dit kan net gebeur volgens Johannes 1:12-13 as ons Christus Jesus aangeneem het en in Hom glo. As kinders van God is ons dus nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man gebore nie, maar uit God gebore. Ons is as't ware in die koninkryk van God ingebore. Daarom maan die Woord ons aan om nie na die vlees te wandel nie maar na die Gees.
Ons glo in, en het die ware Evangelie van Christus aangeneem en ons weet dat die Satan en sy magte alles in die stryd sal werp om ons van ons geloof in Christus te beroof. Daarom is ons stryd dan ook 'n geestelike stryd volgens Efesiërs 6:12 teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
As ons nie "geestelik" wandel nie, hoe wil ons "geestelik" die stryd voer? Ons het nodig om die geesteswêreld te ondersoek en te weet en te verstaan waarmee ons te doen het. Ons moet, net soos die Kolossense, die dinge bedink wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Ons is geestelik gebore en volgend Romeine 8:5 moet ons wat geestelik is, geestelike dinge bedink.
Ek wil graag saam met u dieper delf in die Ewige Woord van God om geestelike dinge te bedink en so God te behaag in alles wat ons doen, of sê of bedink.
© 2025 agsilumenboksburg.com
inhoud ontwikkel deur chemcoolweb privaat dokumentasie

